Haar ring le in die voortjie

 
 

Haar ring lê in die voortjie

Hierdie storie begin op hul troudag, 27 September 1957. Elsa staan voor die Moederkerk op Stellenbosch. Dit is 'n Vrydag en dit is koud. 'n September Suid-Ooste wind waai. Net voor Elsa en haar pa instap, besef sy haar verloofring is weg.

"Pa, my ring is weg. Dit was nounet nog aan my vinger, maar dit is weg."

Haar pa sê, "Kom. Ons kan nie nou gaan ring soek nie."

Hulle is die kerk in en sy en Simon het sonder die verloofring getrou. Ek vra waarom sy die ring afgehaal het. My ouma vertel dat sy haar verloofring om haar pinkie gesit het, want sy wou nie hê Oupa moes staan en vroetel voor die preekstoel nie.

Ek probeer al vir jare my oumas en oupas se stories vasvang. Ek verpes hulle gereeld om dagboek te hou van hul herinneringe.

"Wat moet ons skryf?" vra hulle.

"Skryf net enige iets! Enige iets wat in jul koppe opkom, hoe julle ontmoet het, skoolherinneringe. Oupa, skryf neer wat Oupa vir my vertel het van hoe julle met osse moes skool toe ry, omdat die perde vir die oorlog gebruik is. Ouma, skryf asb neer van die punt! Die kussingpunte wat jy afgeknip, rondgedra en gevryf het!" 

"Kom nou, Ouma!"

"Zahnie, ek weet nie wat om te sê nie, wat presies wil jy weet? Ek kan nie onthou nie."

"Ouma, ek gaan die vrae vra, jy hoef hulle net te antwoord."

Ouma is nie lus vir praat nie. Sy het skielik allerhande kwale, maagpyn en naar, maar ek vermoed sy stel uit. Sy maak reg om uit te gaan. Sy borsel nou eers tande. Ek sit en wag op die bank.

Sy kom sit op die bank. Kamma formeel begin ek my vrae te vra.

Ouma was by haar ouerhuis in Wellington. Sy was 'n predikantsdogter, een van twee. Sy sê dat sy nie kan onthou hoe sy op Stellenbosch gekom het nie, want haar ouers was in die Paarl om die ruiker op te tel. Daar aangekom, was die ruiker nog nie reg nie. Mev. Hettie Smuts het gedag die troue is die Saterdag, maar dit was die Vrydagoggend. Sy het vinnig 'n ruiker aanmekaar geslaan: "'n wit orgidie met allerhande goetertjies," sê Ouma.

Ouma is warm en spontaan. Sy het 'n groot mond en glimlag wat die res van die vrouens in ons familie met trots dra. Ek het nog nooit aan haar gedink is 'n tipiese "ou-tannie" ouma nie. Mens kan haar al die jare deur 'n ring trek. Sy is klassiek-stylvol, naels altyd gedoen met mooi juweeltjies en grimering subtiel. Net reg. Sy het nog nooit ou-tannie hare gehad of ou-tannie bloesies gedra nie. Haar lag is warm en liefdevol. Dit is vir my lekker om dit te hoor. Sy is vreeslik lief vir gesels. Haar huis was altyd warm, vol liefde en vreeslik netjies. Toe ons klein was, het ons ons koekies buite geëet.

Oupa is stil. Baie stil. Niks ontstel hom of maak hom ooit kwaad nie. Hy beloer die wêreld van agter sy koerant. Hy het die storie van die sewe bokkies vir sy kleinkinders oor en oor gelees tot ons almal aan die slaap geval het. In die aande het hy vir ons marmite en kaas roosterbroodjies met prentjies gemaak. Hy smeer eers die marmite en dan, met blokkies en skyfies kaas, bou hy prentjies van huisies en katjies. Hy was die liefste lief vir sy boorde en sy vrugte. Ek onthou daar was altyd 'n kissie perskes in die kattebak en 'n knipmes in sy sak, gereed om vir ons 'n perske te sny. In die somer sny hy groot tande uit die waatlemoen se witstukke en jaag ons al brullend om die huis. In Oupa se woorde, "My rykdom is my kinders om my tafel."

Ouma en Oupa se wortels lê diep in Franschhoek, maar hulle storie begin op Stellenbosch.

Dit is 1953. Ouma studeer B.Mus (klavier) en Oupa, Bsc Landbou. Sy loseer in Huis De Villiers en Oupa in Wilgenhof.

Enige gesoute Stellenbosser weet dat jy nie verby Wilgenhof loop en die woord Bekfluitjie skree nie. Wat volg, is 'n spul manstudente wat uitgehol kom om jou agterna sit. Word jy gevang, is dit koue storte toe met jou! Soos 'n student maar is, konstant simpel, loop Ouma en haar vriendinne eendag verby en skree natuurlik: "Bekfluitjie!" Die bedonnerde mans, waarvan Oupa een was, is natuurlik agterna - alhoewel ek hom glad nie bedonnerd kan sien nie. Die meisies is almal onder koue storte gegooi en dit is dan hier waar Oupa sê hy die eerste keer vir Ouma gewaar.

Later in die jaar sing Wilgenhof en Huis de Villiers saam in die Sangfees. Ouma sê dit was vreeslik lekker, hulle oefen vir maande saam en tree dan saam op. Dit is hier waar Ouma vir Oupa raaksien en hulle vir mekaar begin kyk. Ouma sê hulle het vir mekaar geloer. Sy het geloer en hy het geloer.

Ouma se stemtoon is skielik dié van iemand wat iets onthou en sy vertyl dat sy en haar kamermaat, Aletta, eendag op pad dokter toe vir oupa op sy fiets sien aankom het. Ouma sê sy onthou nog wat sy vir Aletta gesê het: "Weet jy, ek sal nou nogal graag vir hom beter wil leer ken."

Ouma onthou nog 'n snaakse insident waar sy een aand van 'n besoek saam met 'n ander jong manstudent terug koshuis toe gekom het. Haar vriendinne, oortuig dat sy en Oupa bedoel was vir mekaar, het as straf, besluit om haar bed by haar koshuiskamer se venster te laat uithang! Toe sy in die kamer kom, het hulle haar vasgedruk en met lipstiffie oor haar wange die woorde, "OSKOP S'N" geskryf. Oskop was Oupa se bynaam, want met sy mooie, sagte hart was hy ook so hardkoppig soos tien!

Ouma en Oupa het vir drie jaar uitgegaan en het toe in 1957 verloof geraak. Na universiteit is Oupa terug Franschhoek toe om te boer. Ouma is Paarl toe. Sy het in die pragtige "C. Press" gebou gebly en het by Hoër Meisieskool klavierlesse gegee. Sy onthou die absolute stilte van die Paarl se hoofstraat en hoe mens Saterdaeaande, na hul kuiertjie, Oupa se vragmotor vir kilometer kon hoor toef toef toef toef" terug Franschhoek toe.

Teen hierdie tyd is Ouma redelik opgewarm. Sy onthou en herleef hulle. Sy glimlag en lag saam. Ouma sê sy kan nie onthou wanneer sy vir Oupa gesê het dat haar ring weg is nie. Sy onthou wel dat sy vir Oupa se pa, Oupa Sep, gesê het en dat hy op sy sagte, liefdevolle manier gesê het: "Ag wat, dis wêreldsgoed. Moenie vir jou daaroor bekommer nie."

Ouma vertel verder oor die troudag.

"Ek het stoksielsalig alleen aangetrek. Dit was nie so 'n gedoente soos deesdae nie. Ek het my niggie se trourok vir R600 gekoop. In 'n sagte stemtoon sê Ouma dat sy gehou het van haar rok. Toe ek vra oor die hoedjie verander haar stemtoon skielik.

"Nee, daai simpel dingetjie het ek self gekoop. Dit was baie simpel. Dit was eintlik 'n simpel troue all over.  Dit was net 'n tee sommer daar by 'n hotel op Stellenbosch. Die gaste was maar meestal familie. Die ou Malherbe-tantes met hul omgekeerde, skottelhoedjies het my hand vir omtrent vyf minute lank geskud en vertel hoe wonderlik die Malherbes is en dat ek moet volg in die tradisie van Malherbe-vroue, voorvatters en raakvatters."

Ek besef skielik dat alhoewel hulle nie die preutse tantes kon vryspring nie, was hulle Vrydagmiddag Stellenbosch-troue hulle weergawe van elope. Oupa se pa was burgermeester van Franschhoek en ouma was 'n Wellington-predikantsdogter en sy sê dat hulle nie so 'n vreeslike gedoente wou hê nie.

Die verlore ring was deur Franschhoek Koöperasie by 'n juwelier in die Kaap gekoop. Ouma sê sy onthou nog die rekening wat van die Koöperasie arriveer het - "een verloofring. 25 Pond"

Vier maande na die troue kry Ouma eendag 'n oproep van een van haar Stellenbosch tantes om te sê sy het in die Eikestadnuus gelees dat 'n diamantring buite die Moederkerk opgetel is. Hulle moet die polisie vir meer inligting kontak. Ouma het gebel en haar ring beskryf en die polisieman het gesê dat dit wel haar ring kan wees. Ouma en Oupa is sumier Stellenbosch polisiestasie toe en sowaar! Dit is Ouma se verlore ring. Die polisie sê dat 'n vrou die ring in die voortjie voor die Moederkerk tussen klomp blare opgetel het. In ware Malherbe-vrou styl is Ouma na die vrou wat haar ring gevind het. Om dankie te sê het sy 'n kis plaasappels gekry. 

Ek besef skielik dat hulle klein Stellenbosch-troue, op 'n triestige Septemberdag met Ouma se ring wat in die voortjie beland het, nie meer perfek kon wees nie, want sien, aardse dinge, is nie wat hierdie twee mense aanmekaar gebind het nie. Dit was altyd iets anders. Hulle storie kort die vergete trouruiker, die slegte weer en die verlore ring in die voortjie, want dit is daardie staaltjies wat illustreer hoe mooi hulle verhouding was. Dat hulle werklik vir mekaar bedoel was.

Ons het onlangs vir Oupa gegroet. Ons het geweet dit kom. Oupa het vir weke die trek van dood om die mond gehad en toe, stil-stil in die nag in sy eie bed, met Ouma langs hom, is die vrugteplukker huis toe.

Ek dink dis waarom Ouma nie rerig lus is vir stories vertel nie.

Daar steek 'n prentjie van my oupa en my ouma in my kop vas. Oupa staan op en loop stadig, sukkel-sukkel na Ouma en draai vir haar die fles waarmee sy sukkel, oop. Haar arthritis laat nie toe dat sy dit self kan doen nie. Sy het nie gevra vir sy hulp nie, maar Oupa weet. Hulle verstaan iets dieper van die liefde en van mekaar. Hulle verstaan dat hulle rykdom hulle twee om die tafel is.

 

Elsa arriveer by die Moederkerk op Stellenbosch, 27 September 1957.

Pasgetroudes, Elsa en Simon Malherbe.

Story written and illustrated by Elzahn Nel